Beste Breyten - Word meegevoer deur die mantriese metrum van Breyten se woordskilderye

BESTE BREYTEN
Various Artists
Rhythm Records
Breyten Breytenbach is vir dekades reeds een van Suid-Afrika se mees revolusionêre digters. Talle literêre toekennings, volgehoue internasionale publikasies en ook wêreldwye mediabelangstelling in sy werk spreek daarvan. Breyten woon sedert die vroeg sestigs nie meer in Suid-Afrika nie - met die uitsondering van die sewe jaar wat hy, weens sy opponering van die apartheidsbestel, in politieke gevangenisskap deurgebring het as gas van die John Vorster-regering.
Breyten se unieke gebruik van Afrikaans en die sterk beelde in sy gedigte dien al jare lank as inspirasie vir musikante. Na die suksesse van die CD’s “Om te Breyten” (SAMA-toekenning – Beste Afrikaanse Kompilasie), “Mondmusiek” (Beste Esoteriese CD in Afrikaans) en “Lady One”, stel Rhythm Records nou “Beste Breyten” bekend.
Die doel met die samestelling van Beste Breyten was om ‘n toeganklike album te vervaardig wat luisteraars deur middel van vloeiende ritmes en melodieë sal bekendstel aan Breyten se onortodokse en vernuwende gebruik van Afrikaans.
Benewens die vyf nuwe snitte wat vir hierdie projek vervaardig is, bevat die CD ook van die mees melodieuse snitte van Mondmusiek en Om te Breyten. Die album skop af met die polsende, energieke Ek Wag In My Hart (gesing deur aKing se Laudo Liebenberg), waarna dit langsamerhand na kalmer waters vaar, en kort voor lank word luisteraars meëgevoer deur die mantriese metrum van Breyten se woordskilderye.
VIR GRATIS AFLAAISNITTE VAN BESTE BREYTEN, BESOEK:
http://rhythmmusicstore.com/music/6134/Breyten-Breytenbach/Beste-Breyten




Leave a Reply